Slangbyt Op 'n Dinsdag

  • June 2020
  • PDF

This document was uploaded by user and they confirmed that they have the permission to share it. If you are author or own the copyright of this book, please report to us by using this DMCA report form. Report DMCA


Overview

Download & View Slangbyt Op 'n Dinsdag as PDF for free.

More details

  • Words: 2,560
  • Pages: 9
Slangbyt op ʼn Dinsdag Trisa Hugo

“Koebaai, Gideon!” sê Die Kind wanneer hulle by die hoek kom. Sonder om te stop, sê sy vriend, “Baai,” en draai weg. Die Kind se kop hang. Sy skoene is vaal en vol krapmerke van paaie deur die stof sleep. “Middag, Oom Bennie,” sê hy in die verbyloop vir die bene wat onder die Valiant uitsteek. Die oom word kwaad vir kinders wat nie groet nie. Die Kind stop by die gat in die draad by antie Bybie se huis waar hy kortpad vat. Dis Dinsdag, dink hy en druk ʼn stukkie uitsteekdraad wat lyk of dit kan haak met ʼn vuil vinger weg en glip deur die gat. Op die stoep van hulle baksteenhuis wat soos ʼn treurige gesig met twee groot vensteroë lyk, swaai hy sy boeksak van sy skouer af en skiet dit oor die rooi stoep. Terwyl dit gly, loop hy soos ʼn rolbalspeler skuins agter die sak aan, sy kop skeef gedraai van konsentrasie. Asof sy gedagtes die sak help, skuif dit die laaste entjie baie stadig en gaan lê presies oor die drie krake. Sjoe! Dis good luck as hy dit kry om presies so te lê; vandag is ʼn good luck dag. Die deur staan oop, met die klank van Bing Crosby se stem wat jy wie weet waar kan hoor. Antie Girlie het kom kuier, en sit saam met Amanda by die kombuistafel. Hulle drink tee, rook, en lag kort-kort hard. Die Kind hou daarvan as antie Girlie hier is, want dan is Amanda vriendelik. Hulle is altyd besig met make-up. Partymaal verf hulle hulle naels, of doen

mekaar se hare. Die Kind pes dit as hulle perm. Dit lyk nie of dit hulle pla nie, maar hy kan daai reuk nie uit sy neusgate kry nie. Op sulke dae kry hy lekker brood met polonie. Antie Girlie dink seker dit gaan elke dag so hier. “Ja, Girlie, so is my lewe dan nou maar,” sê Amanda terwyl sy opstaan om brood te sny. Party Dinsdae kom sy pa by die huis en sê, “Ai, maar die hondjies het mooi gehardloop; hulle was goed vir my vandag,” en dan gaan hulle drive-in toe en eet hamburgers, maar dit het lanklaas gebeur. As sy pa dan so lief is vir honde, hoekom kan hy nie ʼn hond kry nie, wonder Die Kind. En hoe kan honde grootmensgoeters wees waaroor hy nie sy pa mag uitvra nie? En hoekom mag hy nie vir Juffrou daarvan vertel nie? -o0oDie volgende Dinsdag is nie ʼn good luck dag nie. Die boeksak gly mooi op die krake af, maar die vloer is stowwerig glad en die sak gly ʼn halwe tree verby. Gewoonlik staan die deur op ʼn Dinsdag oop, maar vandag is dit toegetrek. Hy moet hard met sy knie daarteen leun en gelyktydig die knop draai om dit oop te beur. Die huis is doodstil. Hy loer versigtig om die kombuisdeur. “Amanda? Amanda?” roep Die Kind. Hy spreek dit Amênda uit. Maar sy’s nie by die huis nie. Hy is bly sy is nie daar nie, maar hy’s honger. Hy haat pap en koffie in die middag, maar hy is so honger dat selfs dít lekker klink. Daar is nie pap op die

stoof nie en hy weet, nog voordat hy die broodblik oopmaak, dat dit leeg sal wees, maar hy lig in elk geval die deksel op. Niks! Die pot met gisteraand se oorskietpampoen staan op die wasbak. Hy waai ʼn groot groen vlieg weg voordat hy vieserig sy vinger in die pot steek en aan die klipharde rand krap. Hy los die pot en drink liewers twee blikbekers vol water, dit help gewoonlik ʼn rukkie. Hy draai deur toe, maar wanneer hy ʼn kar in die straat hoor stilhou, gaan staan hy doodstil en maak sy nek styf om mooi te hoor. Hy hoop dis nie sy pa nie. Sy maag trek ‘n knop as hy aan sy pa dink. As hy so vroeg op ʼn Dinsdag terug is, is die hel alweer vanaand in hierdie huis los. Dan vloek sy pa die honde en hy word sommer kwaad vir enige iets. Maar nee, daar klap ʼn deur en die kar trek weer weg. Sjoe, hy is bly. Hy gaan kamer toe en begin sy skoolklere uittrek. “Koehie! Koeehieee! Is jy al van die skool af?” Amanda se stem kom van buite af nader. “Kom kyk wat het ek vir jou gebring – slap tjips!” Slap tjips! Great! En hy het gedink dis nie ʼn good luck dag nie! Sonder om die knope los te maak, pluk Die Kind sy skoolhemp oor sy kop en gooi dit neer. Hy skop sy broek uit en gooi dit op die hemp neer. Hy trek so vinnig as wat hy kan ʼn T-hemp en ʼn kortbroek uit die kas aan en hol kombuis toe. Amanda was nog nooit ooit so gaaf met hom sonder dat sy pa by is nie.

“Waar draai jy so lank?” vra sy. “Roer jou en kom eet. Die kos moenie koud word nie.” Daar staan twee pakkies tjips op die tafel en Die Kind gryp ʼn handvol tjips uit die pakkie voor hom. Amanda stoot die ander pakkie oor die tafel na hom toe. “Vat sommer dié ook, ek is nie honger nie,” sê sy. Amanda het vergeet van die sigaret tussen haar vingers en die as het teen haar skouer afgerol en op die vloer geval. Vandag lyk sy vir Die Kind mooi. Haar hare wat gewoonlik hoog opgetease en kliphard gespuit is, het nou oral losgekom en hang sag langs haar gesig. Sy draai ingedagte ʼn krul wat voor haar oor hang om haar vinger. Haar wange is rooi; tot haar nek is rooi. Sy moet nou net nie staan en siek word nie, dink Die Kind. Wie gaan dan hulle pap maak? Sy kyk by die venster uit. Hy volg haar oë en probeer sien wat sy sien, maar die jaart lyk maar net soos enige ander dag met die groen kol in die middel van die droë gras waar die kraan drup en die papiere wat teen die draad vasgewaai het. Hy trek sy skouers op. Grootmense is snaaks, dink hy, en lek sy vingers af. Die eerste pakkie is amper opgeëet. “Kan ek ál die tjips kry, Amanda?” vra hy. “Hmmm?” vra sy, asof sy nie gehoor het nie, en sê dan: “Ek sê mos jy kan dit alles kry. Eet gou klaar en gaan doen jou huiswerk.” Sy staan op. “Moenie my pla nie; ek gaan bietjie lê.” Die Kind gaan sit by die tafel en maak die tweede pakkie ook klaar. “Dít was nou lekker,” sê hy vir homself.

Hy vryf met sy vinger ʼn patroon in die suiker wat op die tafel gemors is en proe die soet as hy sy vinger teen sy tong druk. Hy dink aan hoe anders dit by Gideon-hulle se huis is. Gideon is sy beste vriend, maar hy mag nooit hier kom speel nie. Sy ma sê Die Kind mag maar by Gideon se huis speel. Laas keer toe hy daar was, wou hy met Gideon praat oor grootmense, maar Gideon het niks verstaan wat hy bedoel nie en hy het dit maar gelos. Gideon is nooit bang nie en daar is baie kos in hulle huis. Die Kind wonder hoe dit moet wees om net die yskas oop te maak en te vat wat jy wil hê. Miskien gaan vanaand lekker wees. Miskien gaan sy pa hom weer oor sy hare vryf en hom Bulletjie noem. Dit is op sulke aande wat Amanda sommer ook sy pa vir niks soen en hom in sy nek kielie as sy vir hom koffie bring. Hy wens sulke aande kan vir ewig en ewig aanhou en hy is jammer dat hy altyd vroeg moet gaan slaap. Die Kind se huiswerk is amper klaar toe hy die Prefect hoor dreun. Hy sit regop en wag doodstil. Enige iets kan gebeur. Hy luister vir tekens maar hy kan niks agterkom uit die manier wat die kardeur toeklap nie. “Mandy? Mandy? Waar is jy?” roep sy pa en kom by die agterdeur in. Hy loop verby Die Kind sonder om hom raak te sien. Amanda kom slaperig uit die kamer uit en gaan staan styf teen sy pa. Sy het haar groen wolletjiesjapon aan. “My ou grote, kom sit hier by die tafel, dan gooi ek vir jou ʼn drienk.” Sy vatvat aan sy oor en druk haar hand by sy kraag in. Die Kind hoor hoe haar lang

rooi nael girts-girts teen sy pa se nylon hemp. Sy pa se hand beweeg om haar heup en hy trek haar nader. “Wag nou eers,” sê sy terwyl sy lag en wegdraai om ʼn glas te kry. “Jy’s te vinnig vir my!” Toe sy die drienk bring en sy pa met die groen belt van Amanda se japon begin speel en met sy baard in haar nek krap, weet Die Kind Juffrou gaan môre weer raas, want sy huiswerk gaan nie klaar wees nie. As sy pa-hulle vroeg gaan slaap, moet die ligte af en klaar. -o0oDie Kind draai moeilik om op sy sy. Alles is seer en hy kan nie slaap nie. Vir die twee weke nadat Amanda vir hom tjips gebring het, het dit nogal goed gegaan. Hy het omtrent elke dag lekker brood met iets by gekry. Sy was net die één dag baie kwaad. Sy het geraas oor niks en toe hy die koppie breek, het sy hom aan sy oor beetgekry en tot op sy stoel gesleep. Die Kind se oor het vir twee dae gepyn. Al die kinders het vir sy rooi geswelde oor gekyk. Toe hy die jammer in Gideon se oë sien, was dit al erg, maar Juffrou se sagte hand op sy skouer was te erg. Die trane wat in haar oë geblink het, het die naar gevoel wat die hele dag wou opkom, in sy keel laat opborrel. Hy het uit die klas gehardloop en dit reggekry om om die hoek te kom voor die slymerigheid uit sy keel gebars het. Klein stukkies kos het tussen die gryspienk suur skuimerig op die grond gespat.

Toe daar niks meer in sy maag was nie, het hy hygend op sy hurke gaan sit en probeer om aan niks te dink nie. Hy het sy skoene met sy hand skoon gevee en die bitter uit sy mond gaan was. Hy kon nie vir Juffrou in die oë kyk nie. Hy het sy boeksak net daar in die klas gelos en al die pad huis toe gehardloop. Omdat die huis doodstil was, het hy geweet dat antie Girlie nie daar was nie en hy het versigtig badkamer toe gesluip om sy tande te borsel. By die oop badkamerdeur het hy vasgesteek toe hy hoor hoe Amanda lag; dieselfde lag as die aande wat sy sy pa kamer toe vat en hy moet gaan slaap – die aande wanneer hy die kussing oor sy kop druk. Hy het saggies omgedraai en probeer wegkom, maar toe hy teen die tafel stamp het ʼn vurk afgeval en hard op die sementvloer gekletter en hy het versteen. Oom Bennie het kaal uit die badkamer gestorm. “Waddehel!” het hy geskree. Stukke skuim het van sy skouers afgegly. Die Kind kon nie glo wat hy sien nie. Só lyk sy pa nie as hy bad nie: sy pa se totterman hang af ondertoe, en dis baie kleiner, maar hierdie vreeslike ding van oom Bennie staan sommer so in die lug in op. Hoe kry hy gepie? Oom Bennie het vreeslik gevloek toe sy nat voete op die gladde vloer gegly en hy hard neergeslaan het. Amanda het uit die badkamer uitgestorm met ʼn handdoek om haar lyf. “O, here, Bennie! Wat nou, Bennie?” het sy geskree. Oom Bennie het gly-gly slaapkamer toe geskoffel. Die Kind wou omdraai om te hardloop maar hy het bly staan toe Amanda skree, “Nee! Jy bly net hier!”

Toe oom Bennie terugkom, het hy sy broek halfpad aangetrek gehad. Hy het die belt met een swaaibeweging van sy arm uit die lussies geruk. “Jou klein bliksem!” het hy geskree. “Jy’s veronderstel om by die skool te wees. Wat soek jy hier?!” Gelukkig was sy voete nog glad en Die Kind kon wegkom. Hy het terug gehardloop skool toe en agter die fietsloods gaan sit tot die ander kinders aan die einde van die skooldag uit die klaskamers gestroom het. Daardie middag het hy nie huis toe gegaan nie. Hy het by antie Bybie gaan bly. Sy kon sien dat hy bang is om huis toe te gaan, maar sy kon nie ʼn woord uit hom kry nie. “Vertel maar vir Antie,” het sy aangehou uitvra. “Vir wie is jy bang?” Die Kind het niks gesê nie, net afgekyk en met sy toon geskop aan die growwe kante van ʼn deurgetrapte kol op die tapyt. Sy het haar kop geskud en nog koekies uitgehaal. Eers toe hy die Prefect gehoor het, het hy besef dis Dinsdag. As sy pa by die huis is, moet hy daar wees, anders is daar moeilikheid. Hy het vinnig deur die gat in die draad gekruip. Toe hy by die kombuisdeur inkom, het hy gesien hoe Amanda om sy pa draai. Sy het hom by die kombuistafel laat sit en vir hom sy drienk ingegooi. Sy het agter hom gestaan met haar hande in sy nek en die hele tyd gepraat en vertel hoe stout Die Kind is. “Vandag moet jy hom goed looi,” het sy gesê. Haar vingers het nog steeds met sy pa se hare gespeel. “Hy wil net nie luister nie. En,” het sy bygevoeg, “hy

was parmantig ook.” Sy kon nie stilbly nie. “Ek probeer so hard om vir hom goed te wees, maar hy het net nie ore aan sy kop nie.” Sy pa het met sy kop vir Die Kind beduie om badkamer toe te gaan, daar waar hy altyd pak kry. “Maar pa, sy was saam...” het hy probeer verduidelik, sy stem al klaar soos iemand wat huil. “Loop!” het sy pa hom doodgeskree. Die belt het om sy bene gekrul voordat hy nog by die badkamer was. Die eerste hou het verskriklik gebrand en hy het geweet die merk op sy bene sal lank bly sit. “Maar pa, sy...” het hy weer probeer. Die volgende hou was harder. Toe sy pa sy arm teen die badkamerdeur stamp toe hy vir die volgende hou terugswaai, was hy éérs kwaad. Hy het die deur toegeskop. “Vandag sal ek jou máák luister,” het hy geskree; ʼn hou tussen elke woord. Hoe meer hy vir sy pa probeer vertel het wat hy gesien het, hoe harder het die houe gekom, oor sy hele lyf. Die seerste was die hou wat om sy ribbes gekrul het en dadelik ʼn rooi merk op sy maag gelos het. Die laaste wat hy kan onthou, is Amanda wat die badkamer deur oopmaak en “Genoeg! Dis nou genóég!” skree. Die Kind draai stadig op sy ander sy en byt op sy tande dat hy nie van die pyn uitroep nie. Hy trek die kussing oor sy kop sodat hy nie Amanda se geluide hoef te hoor nie. Dis Dinsdagaand en hy is bly dat hy vroeg moes gaan slaap.

Related Documents

Dinsdag 13 Januari
December 2019 11
Op
May 2020 24
Op
April 2020 35
Op
October 2019 42