MEI Padkosgedagtes Padkosgedagtes
Mei 1
Hy is die Vader van lig. Volgens Sy eie begeerte het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid om die wêreld te versier met Sy karakter en beeld. Jakobus 1:17,18. Die uur het nou gekom waar die Vader in gees en in waarheid aanbid word. Jakob se put, of hierdie heilige berg, en selfs Jerusalem se godsdienstige konnektasie en era is uitgedien en verby! Johannes 4:20-24. Ons oorsprong is ons ware fontein wat in ons opspring tot die ewige lewe. Jakop is nie ons herkoms nie. ‘Salig is jy seun van Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie.’ Keer t’rug tot jou fontein! ‘Hy is die oorsprong en die vervulling van ons geloof.’ Hebreërs 12:2. ‘Deur Hom is julle in Christus wat vir ons geword het wysheid uit God, en geregtigheid, en heiligmaking en verlossing...’ 1 Kor.1:30. Hy is die bron van ons lewe in Christus. ‘Dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het.’ 2 Kor. 5:18. ‘Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste lief gehad het! 1 Joh.4:10. ‘Ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jesus.’ Efesiërs 2:10. Jesus Christus is die Woord wat van die begin af was, die Woord wat God is, die Woord wat vlees geword het, Hy is die bloudruk van die mens se oorsprong. Padkosgedagtes
Mei 2
Die bediening van versoening het net een uitsluitlike oogmerk: om die gevalle mens te herstel in sy oorspronklike status as geesgenoot van God, geskape in Sy beeld in die volle grootte en gestalte van Christus! Padkosgedagtes
Mei 3
‘Terwyl sommige sê: Ek is van Apollos, of ek is van Paulus, of van Petrus, sit ons vas in ‘n minderwaardige identiteit wat ons verstrengel in jaloesie en wedywering.’ 1 Kor. 3:4. Nuwe Testamentiese bediening was nooit bedoel om ons in verskillende kampe te verdeel nie. Padkosgedagtes
Mei 4
Met sy eerste besoek aan Efese, vind Paulus sommige dissipels van Johannes die Doper daar. Dit is reeds jare na hul leier vermoor is. As gevolg van hulle groeps-verband en isolasie, het hulle nooit gehoor van die doping in die Heilige Gees nie. Hulle sit toe nog vas in ‘n lering van ‘n doping van bekering van sonde. Vir Paulus was dit nie ‘n dogmatiese probleem om hulle weer te doop nie; hy doop hulle toe in die naam van Jesus en toe hy vir hulle die hande oplê, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in tale gespreek en geprofeteer. Han.19:1-6. Padkosgedagtes
Mei 5
Reeds tydens die bediening van Jesus het Johannes se dissipels hulself afgesonder en hul eie ding gedoen. Terwyl die dissipels van Jesus eet en drink, vas en bid die dissipels van Johannes, saam met die dissipels van die Fariseërs. Lukas 5:33. (Om ‘n kans te kry om die sprinkaan dieet te onderbreek het ‘n ou seker nie ‘n groot verskoning nodig gehad om te vas nie!) Johannes die doper was Jesus se eie neef. Hy het Jesus openbaar as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Hy het Jesus gedoop en gesien hoe die hemel oor Hom oopmaak en die Heilige Gees oor Hom kom in die vorm van ‘n duif, hy het die stem van God hoor sê, ‘dit is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.’ Maar in plaas daarvan dat hy en sy volgelinge die eerste dissipels van Jesus word, gaan hulle aan om hul eie ding te doen! Selfs sy styl en boodskap verander nie; hy hou aan om sonde en veroordeling te verkondig asof die Lam van God nie die sonde van die wêreld wegneem nie. ‘Addergeslag!’ is die titel van sy preek. Hy het so pas die profeet Jesaja aangehaal toe hy Jesus aanwys as
die nuwe en lewende snelweg wat God gemaak het in die woestyn, terwyl dieselfde stukkie skrif begin met die woorde: ‘Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek met deernis tot die hart van Jerusalem en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is! ‘n Stem van een wat roep: in die woestyn het God ‘n snelweg gemaak…!’ Jesaja 40:1-3. Padkosgedagtes
Mei 6
Dit is so hartseer dat daar vandag nog soveel bedieninge is wat volhou met ‘n boodskap van veroordeling en skuld en blind staan teenoor die ‘goeie’ van die Evangelie. Die Griekse woord vir evangelie, eu-angellion beteken juis goeie aankondiging. Jesus is die openbaring van God se welbehae. Johannes beland in die tronk omdat hy Herodus veroordeel oor sy broer se vrou. In die tronk begin hy twyfel, en wonder hy of Jesus wel die Messias is. Hy stuur toe twee van sy dissipels na Jesus om Hom te vrae of Hy die een is wat sou kom, en of hulle maar sal moet wag vir ‘n volgende koms. (Vandag nog word die verkondiging van die wederkoms ‘n populêre opsie terwyl ons steeds nie die volle impak en implikasie van Sy eerste koms besef nie.) Jesus laat weet hom: ‘Gaan vertel Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer en dowes hoor, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dooies word opgewek en aan armes word goeie nuus verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.’ Mattheus 11:2-6. Om aanstoot te neem, vir watter geldige rede ookal, neutraliseer jy jou geloof! Fonteinvarsgedagtes
Mei 7
Johannes se reaksie is in skerp kontras met Paulus s’n. Hulle was weliswaar nie vir dieselfde redes in die tronk nie. Johannes was nie tronk toe as gevolg van sy assosiasie met Jesus nie. Terwyl Jesus vriende maak met die sondaars, maak Johannes vyande. Paulus was menige kere in die tronk vir dieselfde redes waarvoor die Fariseërs Jesus gekruisig het. Ons het eintlik geen benul wat Paulus moes ly nie: ‘Ek was talle keer geslaan, dikwels het ek by die dood omgedraai, vyf maal het ek van die Jode die 39 houe onvang, (In die ‘Passion of Christ’ wys Mel Gibson hoe ‘n mens se liggaam lyk na 39 houe, nie ‘n stukkie vel op die rug bly oor nie!) drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op ‘n stuk dryfhout gedobber. Dikwels op reis in lewensgevaar, gevare van vol riviere, gevare van rowers, in gevare van my eie volk, gevare van die Romeine, gevare in die stad, gevare in die woestyn, gevare ter see en gevare van valse broers; in ontsettende harde werk en moeite, dikwels slapelose nagte, dikwels in honger en dors, sonder enigiets om te eet, dikwels aan geweldige blootstelling van koue sonder warm klere. 2 Korinthiërs 11:23-28. Net om hierdie getuienis te lees, vul mens met afgryse en skok. Maar kyk wat noem Paulus dit in 2 Korinthiërs 4:17, ‘Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid.’ Fonteinvarsgedagtes
Mei 8
In hierdie getuienis kry ons begrip van die kwaliteit van die openbaring waarin Paulus gewandel het. ‘Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees in elke omstandigheid. Ek weet hoe om vernedering te verwerk, net so weet ek ook hoe om oorvloed te hanteer; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te wees sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Ek is tot al hierdie dinge in staat deur die kragbron van Christus se energie in my.’ Fillipense 4:11-13. Oorvloed is nie die bewys van Christus se seën en inwoning nie, net so is gebrek nie die bewys van Sy afwesigheid nie! Fonteinvarsgedagtes
Mei 9
Kompetiesie maak nie van ‘n mens ‘n kampioen nie. Om met oortuiging te besef dat selfs in die afwesigheid van enige erkenning, applous of klop op die skouer, geen teëspraak my integriteit, of die spieëlbeeld van God in my kan vernietig nie, is die ware karakter van ‘n kampioen. Fonteinvarsgedagtes
Mei 10
Geloof is om die indruk van Sy beeld in jou met soveel oortuiging vas te gryp, dat dit onmoontlik raak om te vergeet watse soort mens jy is. Nou kan jy, selfs gekonfronteer met die grootste teëspraak, net dit reflekteer wat jy is: ‘volmaak en sonder gebrek en iemand wat in niks kortkom nie.’ Jak.1:2-4,24. Padkosgedagtes
Mei 11
Die woord van die waarheid, wat die integriteit en volmaaktheid van ons oorsprong en verlossing openbaar, is die bron van geloof. Geloof is die spontane vrug van die waarheid. Padkosgedagtes
Mei 12
Standvastigheid te midde van versoeking en teëspraak, is die vrug van geloof. Standvastigheid bevestig dit wat die waarheid uitspel ‘Genade is aan elkeen van ons gegee volgens die mate van die gawe van Christus.’ Efesiërs 4:7. Sy beeld in ons is die maatstaf van ons volmaaktheid. Padkosgedagtes
Mei 13
Die openbaring van Christus in ons, is die bloudruk van God se oorspronklike gedagte, en nie die belonging van ons verdienste of poging om soos Hy te probeer wees nie! Padkosgedagtes
Mei 14
‘Die woord wat van die begin af was, die woord wat by God was, die woord wat God is, het vlees geword en in ons kom woning maak! En uit Sy volheid het ons almal ontvang; genade, al het ons niks gedoen om dit te verdien nie.’ Johannes 1:1,14,16. Let op die Griekse teks sê: in ons, nie onder ons of by ons nie; dan sê die teks : garin anti garin , wat beteken: genade teen genade; onverdiende guns. Genade is ‘n gawe, nie ‘n beloning nie. Romeine 4:3,15,16. Padkosgedagtes
Mei 15
Daar is twee tipes toetse: ‘n selftoets en ‘n lewenstoets. In die finale hoofstuk van Paulus se laaste brief aan die Korinthiërs maak hy hierdie besonderse stelling: ‘Ondersoek julleself om te sien of julle wel in die geloof is; stel julleself op die proef: besef julle nie dat Jesus Christus in julle is nie!’ Padkosgedagtes
Mei 16
Dit is die essensie van die geloof! Dit is waaroor alles gaan! Geloof gaan nie oor God vertrou vir ‘n nuwe kar, of ‘n groter huis of ‘n beter werk of wat ookal nie, die openbaring van Christus in jou is die finale slotsom van jou geloof! Padkosgedagtes
Mei 17
In soveel van ons geloofsleringe het ons die klem uitsluitlik laat val op die materiële en die tydelike. Paulus sê dat selfs al sou dit blyk dat Christus afwesig is in die mens, kanseleer dit nie die waarheid nie; die waarheid is dat Christus in die mens is! 2 Kor. 13:5,8. Die waarheid word nie bevestig of bedreig deur ons ondervinding nie! Padkosgedagtes
Mei 18
In Fillipense 4 skryf Paulus dat hy die geheim ontdek het om altyd vergenoegd te wees. Die goedheid van God word nie bevestig of bewys deur materiële seën nie, net so is tye van gebrek nie ‘n bewys van Sy afwesigheid nie. Padkosgedagtes
Mei 19
Hierdie toets is amper soos die eindeksamen van byvoorbeeld ‘n mediese student, net voor hy sou kwalifiseer om volwaardig in die mediese beroep te staan. Voordat hy met enige vrymoedigheid en outoriteit ‘n Geneesheer kan wees, moet hy tog eers sy eksamen deurkom! Waarom is dit so dringend dat die mens Christus in hom moet besef? Sekerlik nie net bloot vir persoonlike verryking en vermaak nie, maar juis vir dinamiese en effektiewe lewe! ‘Die werke wat Ek doen, sal julle ook doen!’ Die bonus en seën van Sy teenwoordigheid en nabyheid is onvermydelik! Padkosgedagtes
Mei 20
Nou kom die toetse van die lewe: ‘Ons weet dat in alles wat met ons gebeur, God in ons guns onderhandel en werk. As God vir ons is, wie kan teen ons wees? God het ons ontwerp (vantevore verordineer, Grieks: Hy het ons uitgemeet, kunstig ontwerp.) om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy seun. Ons deel dieselfde gietvorm! We are jointly fashioned in the same mould and image of His son. Wie sal slaag in enige veroordelingsklag teen ons? Hy verklaar ons geregverdig op grond van Sy opinie van ons (Sy heerlikheid) Wie sal ons skei van die liefde van Christus? Verdrukking of benoudheid, of vervolging, of honger of naaktheid, of gevaar of swaard? Nee, in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Padkosgedagtes
Mei 21
Want ek is oortuig dat geen dood of lewe, of engele of owerhede of sataniesemagte, of teenwoordige of toekomstige dinge, of hoogte of diepte of enige iets in die ganse skepping, ons ooit sal kan skei van die liefde van God in Christus nie!’ Romeine 8:28-39. ‘Ag dit louter vreugde wanneer julle in allerhande versoekinge val, (toetse wat jou egte identiteit bedreig, en weer minderwaardig laat voel en bewus wil hou van tekortkominge.) omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof, lankmoedigheid bring. Maar die lankmoedigheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.’ Jakobus 1:2-4. Is dit blote uittarting, te goed om waar te wees, of lê hierdie idilliese lewe sonder gebrek en behoefte binne elkeen se bereik? Dit klink amper soos Psalm 23 ‘…. niks sal my ontbreek nie, ek sal geen onheil vrees nie, net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe’ Is dit bedoel vir die hiernamaals, of nou? Padkosgedagtes
Mei 22
‘n Toets of versoeking verwys na enigiets wat die mens moontlik kan bedreig en oortuig van gebrek of tekort. Onthou, God toets nie die mens nie. Daar bestaan by hom geen verskuilde agenda nie. Jakobus 1:13,17. God is oortuig aangaande jou. Hy het lankal Sy ‘mind’ opgemaak oor jou! Sy opinie van die mens is nie nog afhanklik van die een of ander toets wat geslaag of gedruip moet word nie. Hy het geen behoefte om nog te eksperimenteer
voordat Hy finaal besluit oor Sy liefde teenoor die mens nie. Sy welbehae en guns is Sy finale uitspraak. Lukas 2:14. Padkosgedagtes
Mei 23
Om te hunker op twee gedagtes sodra jy teëspraak beleef, is om jouself te bedrieg. Geen mens kan dit bekostig nie. Die manier waarop ‘n mens teëspraak en toetse verwerk is die sleutel tot ‘n vervulde lewe. ‘…lankmoedigheid moet tot volle verwerkliking kom…’ Lankmoedigheid is ‘n vrug van jou gees. Vrug is die resultaat van ‘n proses. Verwelkom die proses met opgewonde entoesiasme eerder as om dit weg te wens! Lankmoedigheid is die geheim tot ‘n lewenservaring sonder gebrek of behoefte. Lankmoedigheid is nie iets wat ‘n mens erf of oor die toonbank koop nie. Daar is geen kortpad nie; dit is ononderhandelbaar. Lankmoedigheid in jou geloof, om absoluut oortuig te wees van die guns van God en jou identiteit in Hom, is die skakel tot die mees gesogte lewensgehalte denkbaar. Padkosgedagtes
Mei 24
Die Griekse woord vir volmaak is holokleroi wat beteken om in volle besit te wees van dit wat jou wettiglik toekom. Vergelyk die gedagte met Jakobus 1:15; Die woord wat telkens vertaal word as sonde, is die Griekse woord hamartia: ha = negatief + martia van meros=toegekende porsie of erfdeel; met ander woorde om nie dit wat jou werklik toekom te ontdek en toe te eien nie. Dinge wat tradisioneel as sonde geklassifiseer word is eintlik net simptome van ‘n onvervulde lewe. Vir die hongerige siel is alles wat bitter is, soet. Maar die versadigde siel vertrap die heuningstroop. Spreuke 27:7. Padkosgedagtes
Mei 25
‘Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, my erfenis is vir my mooi’ Psalm 16:6. ‘Ag dit louter vreugde…’ die Griekse woord hegeomai word hier gebruik, dit is die versterkte vorm van ago, wat beteken om te lei soos ‘n herder sy skape lei. Die herder was ‘n gesagsfiguur, wie sy kudde moes beskerm teen die elemente asook rowers en wilde diere soos leeus en wolwe. Hegeomai beteken om met amptelike gesag leiding te neem; soos wanneer iemand amptelik aangestel word in ‘n gesagsposisie. Blydskap is nie ‘n verleë, skaam, aangeplakte glimlag, terwyl ek eintlik myself baie jammer kry nie. Blydskap is die dinamiese gesagsreaksie van jou gees gekonfronteer deur beproewing. Padkosgedagtes Mei 26 Die mees sinvolle slotsom waartoe ‘n mens kan kom in enige situasie, hoe negatief ookal, is blydskap! The most sober calculation one can make is a conclusion which always results in joy. Onthou, blydskap is nie iets wat jy doen nie, dit is die vrug van iets wat jy weet; die vrug van dit wat in jou reflekteer soos in ‘n spieël. Dit is om te verstaan dat die beeld van jou oorsprong onbelemmerd bewaar is in jou gees en in Christus volmaak verlos is. Padkosgedagtes
Mei 27
Hierdie blydskap kanselleer dinge soos selfbejammering, agterdog, ‘n gevoel van onvergenoegdheid, angs, minderwaardigheid, die behoefte om jou probleme met ander te vergelyk en simpatie te soek, ens. Dit is juis die dinge wat jou verswak en verarm. Padkosgedagtes
Mei 28
Een van die grootste probleme in Suid Afrika naas die menswaardigheidsvernietigingsfilosofie (definitief die langste woord in die boek!) van Apartheid, is die huidige konstante verwysing na die ‘Previously Disadvantaged’ of die ‘Agtergeblewendes’. Ons dink dat deur selfbejammering aan te moedig ons dit kan regkry
om mense te bemagtig. Die teenoorgestelde is egter besig om te gebeur. Niks is so selfvernietigend soos selfbejammering en die gevoel dat ander my iets skuld nie. Ons is besig om ‘n geslag mense te kweek wat teer op ‘hand-outs.’ Dit is so maklik om vinger te wys na al die redes, hoe geldig ookal, hoekom dit so sleg gaan en dan toe te laat dat juis hierdie redes my verder neutraliseer en noodwendig verder verarm. Padkosgedagtes
Mei 29
Moenie trap in die strik deur te dink dat jou spesifieke probleem so erg is, dat dit definitief jou kla en kwel noodsaak nie. Die lewe gaan nie oor wat ‘n mens nie het nie maar dit gaan baie beslis oor die ontdek van alles wat in jou is in Christus en wat mens dan maak met dit wat jy het! Padkosgedagtes
Mei 30
Blydskap is die stem van geloof. Blydskap sing in plaas van sug. Blydskap neem gesag oor elke negatiewe omstandigheid en teëspraak! Padkosgedagtes
Mei 31
‘n Mens se praat is soos die roer van ‘n skip, ‘n massiewe groot vaartuig word moeiteloos in ‘n rigting gestuur. Die onmiddellike effek van reg praat is dinamies en moet nooit onderskat word nie. Selfs ons gedagtes is stil woorde wat net ons en God van weet; daai woorde bepaal en beïnvloed ons innerlike mens, ons gesondheid en ons hele lewens ingesteldheid.